Die dag toe die breipenne
se klik-klak stil geword het
en die manne hul moue afrol
en die grawe in die grond insteek
nadat hulle jou 6 voet ver laat val het
was daar ‘n gat
net so groot soos
Kimberley s’n in my hart,
want hoe kon Ouma
dit oor jou hart kry
om jou steke net so te los?
Kon Jesus jou maar nie
net uit die graf uit trek
soos Lazarus en sê
die dokter se
diagnose is ‘n fout nie?
Hy’t my inteendeel opgetel
toe ek teen die grond was
en vir my gewys
watter mooi kleurskakering
jou teenwoordigheid
in die hemel meebring.
Die dubbelknoop waarvoor
jy so lief was om te maak
is sinoniem met die
vaste fondasie van liefde
wat jy vir jou nageslag gelê het
en die steke wat jy opgesit het
is simbolies van jou kinders.
En elke rytjie wat Ouma
verder gebrei het in daai
lappieskombers van my
is die kleinkinders
en agterkleinkinders
wat met die tyd
saam bygekom het.
Tot en met die dag wat ons
in hemelse heerlikheid ontmoet,
groet ek met die wete
dat Ouma nou ‘n breipatroon
is wat in die hemel woon.
NS: Dra my dank oor
aan die breipen en sy vrou
wie lank reeds voor
my tyd begin bou
het aan die nageslag
en wie Ouma altyd
in tere herinnering vasgehou
het met daardie gekreukelde
oumenshande van jou.
No comments:
Post a Comment