Tuesday, October 18, 2011

My Gibraltar van ‘n Rots van ‘n Ma


Wys vir my ‘n vrou met krag en al tien my vingers wys gelyk na my ma toe wat vir sewe jaar lank elke dag alleen opstaan om te gaan werk vir haar gesin.  Party dae haat ‘n mens haar meer as ander omdat sy die een is wat vir haar kinders sorg, liefde en slae uitdeel, maar diep binne in ons harte is ons so baie dankbaar vir haar wat haar vingers stompies werk en ons leer van die kerk.  Vandag is dit presies 31 jaar lank wat sy haar troubelofte nakom – die een om haar man met bipolêre depressie te onderhou vir solank as wat sy leef.  Haar man hou daarvan om op die stoep te sit en te kyk hoe sy moet werk, maar hy dink nie aan die twee verskillende spuite insulien wat sy nodig het om met hom getroud te wees nie, want om alleen te werk is nie speletjies met die lewenskoste wat by die dag styg nie.

So Ma, al het jou hart leeg geloop van liefde vir ‘n man wat niks anders kan doen as om net heeldag in die bed te lê en hom dieper in ‘n depressie in te slaap nie, wil ons twee kinders vir jou sê:  Ons het jou lief vir wie en wat jy is en beteken vir ons twee.
Want ons weet eens op ‘n tyd toe jy trou beloof het aan ons pa was jou hart oorlopens toe vol van liefde.  Elke kraak in jou hart was die gevolg van smart soos die keer toe die skoonfamilie in ons huis vir Ma kom vertel het jy sit met ‘n huweliksprobleem en nie met ‘n siek man nie.  Ek dink sommer net hulle was doodeenvoudig stupid, want sy oupa aan moederskant het met dieselfde probleem gesit.  Ek dink ook aan elke ander dag wat arrogansie kop uitsteek by hom as jy net vir hom vra om op te staan en te gaan brandstof ingooi; en ek dink hoe seer ons tweetjies se spiere was in 2009 nadat ons hom meer as een aand van Boetie moes aftrek as hy hom wou slaan omdat Boetie hom teëgaan oor die manier waarop hy met die twee vrouens in sy lewe praat – ek en ma; en ek dink aan sy dreigement in 2007 om ‘n einde aan sy lewe te bring as hy weer moet teruggaan hospitaal toe na die naweek van my verjaarsdag en daar keer hy toe waaragtig Ma se kar om die Sondag met my verjaarsdag met Boetie by hom; en ek dink aan die mediese kostes waaraan Ma vandag nog afbetaal om Boetie weer sover te kry dat hy kan loop (al is dit half mank) en sy linkerhand kan gebruik na die beroerte en die breek van sy pelvis in die ongeluk; en ek dink aan die skoolhoof se onaangename boodskap wat Ma aan Boetie moes oordra...dat hy nie na graad 11 oorgeplaas gaan word nie omdat hy van Julie tot Oktober daardie jaar in die hospitaal gehuisves was en aan die trane wat Ma moes help afdroog oor sy maats wat hom ‘n jaar vooruitgegaan het tesame met dié oor die feit dat hy soos ‘n babatjie van voor af moes leer loop (iets wat ons as alledaags aanvaar tot ons self nie meer kan nie) asook die trane oor sy korttermyngeheue wat na die ongeluk nie meer na behore funksioneer nie; en ek dink aan die verwyte dat Ma ‘n koue vrou is omdat Ma weier om langs ‘n man te slaap wat jou nat piepie al is Ma so goed vir hom dat jy hom onderhou nog voordat hy opgehou werk het, want ‘n gedeelte van sy salaris het hy mos maandeliks verniet weggegee aan familie wat hom nie eers meer ken nie...net as hulle wil sweisstafies leen met die doel om dit nooit weer terug te gee nie.  En soos wat die onthou aangaan besef ek hoeveel Ma al van Ma self gegee het net om met hierdie man getroud te wees...selfs Ma se trouringe vir kos op die tafel sodat ons as kinders nie honger hoef te gaan slaap nie.

Uit ervaring weet ek ook die lewe by die werk is nie veel rooskleuriger nie, want daar is mense wat my Gibraltar van ‘n Rots van ‘n Ma nie kan verdra omdat sy so goudeerlik is nie, en hulle sal nie skroom om Ma uit te werk en die vakante pos te vul met ‘n BEE-aanstelling nie.  Toe Nedbank Mamma wou dismiss na 23 jaar diens oor ‘n Teller se oneerlikheid was Sasbo, Ma se sussie en ons twee kinders darem daar vir jou die nagte van wakkerlê en wonder wat die dissiplinêre verhoor gaan inhou.

Met verloop van tyd het die eens sprankelende jong bruid eensklaps ouer en siekliker geword as gevolg van die sinkplaatpad wat sy haar lewe lank moes ry.  Al weet sy van ‘n skeihof is sy ‘n vrou wat by haar woord hou soos dit hoort – die een van “in sickness and in health”.

Ma, ek en Boetie salueer jou vir jou omgee in oorvloed vir ons pa deur elke terugslag heen en ons waardeer dit dat jy meer as net jou troubelofte nakom – dat jy hom nou al vir jare onderhou in plaas van hy vir jou.  Al het Ma nie vriende om in Ma se vreugde te deel vandag nie uit vrees dat ander sal sien hoe kan Ma se man en ons twee kinders se pa kamerdeure slaan dat dit lyk soos tamatiekasplankies het ons darem vir mekaar en ons Hemelse Pa om voor dankbaar te wees.

En al het Pa oudergewoonte vergeet dis julle troudag net om elke jaar sy verjaarsdag te wil onthou sal ons drietjies maar vanaand ‘n glasie klink op ‘n ma met uithouvermoë soos min en ons troos met die wete dat Ma eendag daarbo ryklik daarvoor beloon sal word.

No comments:

Post a Comment