Sunday, July 19, 2009

Moderne ma’s

Dankie Doktor Bester en Janine vir die inspirasie

Hulle het aan jou lewe gegee;
met hulle stribbel jy soms teë.
Hulle wat kleintyd jou doeke omruil;
saam jou stap - daardie ekstra myl.

Hulle wat dit nooit staak
om agter jou te loop en skoonmaak.
Hulle wat Woolworths-kos koop;
Edgars van hul voorraad stroop.

Hulle wat vir haarverwydering gaan;
sonbedsessies nie kan weerstaan.
Hulle wat hul naels laat doen
en jou vol lipstiffiemerke soen.

Hulle wat ure in Virgin Active spandeer;
jou van Maria, Markus en Moses leer.
Hulle wat hul ooghare laat tint –
vir hul eie foute is hulle soms blind.

Hulle wat hul kinders vermaan
eerder as om aan hulle te slaan.
Hulle wie se karre as taxi dien;
wie deur mure en geslote kamerdeure sien.

Hulle help jou saans met skoolwerk;
hulle dien op Rade van die Kerk.
Hulle wat jou keer op keer vergewe
wanneer jy nie volgens Sy wil lewe.

Hulle wat nie vir jou kwaad raak
as jy nie jou bed en skoene op- en vasmaak.
Hulle wat nie jou hand in krisistye los –
dit maak nie saak wat dit kos.

Hulle met wie jy jou geheime kan deel;
wat saam jou met karretjies of poppe speel.
Hulle wat sê jy moet al jou kos opeet,
so nie, kan jy van lekkergoed vergeet.

Hulle wat tjop-tjop dinge kan reël;
vir hulle is niks net nooit te veel.
Hulle wat gereeld mense onthaal -
op die nippertjie sonder enige kabaal.

Hulle wat sê: “Slegte medisyne maak gesond,
so maak asseblief tog net oop jou mond!”
Hulle op wie se skouer jy kan huil;
op wie se skoot jy kan sit al is jy vuil.

Hulle wat jou van Kersvader vertel;
hom in verband met jou kerswense bel.
Hulle wat die tandemuis laat kom;
vergeet kinders wat oop oë slaap is nie dom.

Hulle wat die dienste van ‘n bestuurskool huur
wanneer jy die dag oud genoeg is om te bestuur.
Hulle wat al die pad Johannesburg toe ry
net om hul hare daar te laat sny.

Hulle wat jou soos ‘n slaaf bedien.
Het jy dit al ooit raakgesien?
Hulle wat jou laat besef -
moenie tussen jou kinders onderskeid tref.

No comments:

Post a Comment