U weet wat's my naam;
waaroor en waarvoor ek my skaam.
U weet wat’s my geslag;
wie en wat laat my gewoonlik lag.
U weet tot watter rassegroep ek behoort;
uit wie se nageslag spruit ek voort.
U weet waar’s my geboorteland;
hoe swak of sterk my familieband.
U weet watter kar ek ry
en ook waar ek bly.
U weet na watter musiek ek luister;
wanneer ek gehul is in duister.
U weet waarna ek op TV kyk;
watter handelsname in my kaste pryk.
U weet wat ek graag lees
en soos wie ek in die lewe wil wees.
U weet wanneer ek ‘n gulde geleentheid mis;
waartoe ek alles in staat is.
U weet oor watter talente ek beskik;
van al die kere in my lewe wat ek misluk.
U weet van my prestasies;
voor aftrekkings wat is my basies.
U weet van die kwalifikasies teen my muur
en wanneer is ek oorstuur.
U weet van die keuses wat ek neem
en hoe hanteer ek elke probleem.
U weet van die planne wat ek beraam;
wie se foto’s dra ek met my saam.
U weet van al die foute wat ek maak;
wanneer steek ek met wie die draak.
U weet wat ek wil vertel nog voor ek iets sê;
U weet van my benodigdhede – wat ek wil hê.
U weet van my seerste seer;
van die lewenslesse wat ek leer.
U weet wanneer ek soos Job op die ashoop sit;
dink dat dit nie help om aan te hou bid.
U weet wat’s my grootste vrees;
wanneer en waar ek my Bybel lees.
U weet van die geraamtes in my kas;
dit wat op my skouers rus – elke las.
U weet wanneer is ek spyt;
van die kere wat ek ander verwyt.
U weet wanneer slaan ek my naam met ‘n plank;
by watter instansie ek my geld bank.
U weet waarna ek streef;
hoe lank ek nog gaan leef.
U weet hoeveel hare is op my hoof;
wanneer hou ek my opsetlik doof.
Voor my geboorte het U van my geweet –
dat ek U meesterstuk sou heet.
U weet met wie en wat ek omgaan;
sal ek ooit U alwetendheid verstaan?
No comments:
Post a Comment