Wednesday, September 30, 2009

Nota vir my blêrrie besige baas

(Niemand anders as Doktor Ferreira nie)

Kan ek twee minute leen van jou tyd?
Dis nie asof ek moeilike vrae wil vra
of oor my werksomstandighede wil kla -
ek wil jou meedeel oor my besluit...

‘n verhoging is nie wat ek soek;
nog minder ‘n voorskot;
ook nie ‘n beter werksaanbod;
gaan bêre gerus die tjekboek...

ek wil nie my bedanking indien;
ek wil ook nie geselsies gesels
oor wat my pligte alles behels;
ek ken dit al en buitendien...

as jy afwesig is, is daar ‘n lugleegte;
twee minute van jou tyd op kantoor -
meer werd as ‘n dag - al kom jy vroeër;
jou teenwoordigheid verskaf groot vreugde.

Buite beheer

Om Vader Tyd se wysers terug te draai
na vergete gisters van die verlede –
dit sou jou gewete kon paai –
maar die wysers beweeg na die hede...

Tuesday, September 29, 2009

Hartsgeheime

Jy't jou ouma se opvoeding vertrap.
Die nagevolge van jou daad was g’n grap.
Jy’t ‘n geliefde uit ons geledere geneem;
in die proses jouself van jou familie vervreem.

Jy was nes David Pratt versot op leed;
jy’t van die Volksraad se verwikkelinge geweet.
Jy’t woord by daad gevoeg;
nie omgegee oor ander wat sal wroeg.

Jou naam het koerante gehaal;
HF Verwoerd het met sy lewe betaal.
As jou ma maar net destyds moes weet
jy sou jare later ‘n sluipmoordenaar heet...

Neem ‘n mens jou lewe in oënskou
besef ‘n mens jy’t met jou waansin volgehou.
As jy die slagoffer van jou geheime moes wees –
sou jy of sou jy nie – begin het om jouself te vrees?

In vlug

Dankie Doktor Ronél vir wat jy beteken

Jou vertroue gee my vlerke;
jou aanmoediging is my inspirasie;
jou hulp dien as informasie;
op my vlug ken jou geduld geen perke...

Monday, September 28, 2009

Immuniteit is uit

(Vir party was jy meer as 'n kennis
-Jandré Diedericks-
jy word deur almal gemis)

3 jaar later - steeds is ons verslae -
soveel wat ons onsself afvra.
Is medici na jou outopsie meer wys?
Weet hulle wat het jou lewe geëis?

Nooit weer het ons saam jou klas gehad -
jou dood het ons ook koud gelaat -
jou sonnige geaardheid het verdwyn.
Jou dood was met Sy raadsplan in lyn.

Selfs Sy eie Seun moes sterf
sodat ons die ewige lewe kan beërf.
Niemand spring die dood vry -
later ons – eers jy.

Departementshoof-wees

Dankie Doktor Ronél vir die inspirasie

Jy woon vergaderings by op kampus
soms selfs in jou eie kantoor.
Bly jy ooit tussen dit als voor
en kry jy darem genoeg rus?

Artikels om te skryf en lees –
jou pen – die slag van Bloedrivier.
Hoeveel om nie alles te verduur
as jy die departementshoof wil wees?

As akademikus is jy alombekend –
mense kyk op na jou –
jy weet wat verg dit om uit te hou
as probleme hulself tot jou wend.

Besluite is deel van die daaglikse roetine;
dan nog kollegas en studente om te sien;
oproepe en e-posse - meer as ’n stuk of tien;
dit alles deel van jou werksdissipline.

Dan nog seminare om by te woon -
landwyd en suid –
daarvoor maak jy maar net tyd;
is dit alles darem werd die loon?

Sunday, September 27, 2009

Sluipmoordenaar


Sou jou ma ooit kon raai
dat jy in 1966 so sou uitdraai?
As sy moes weet – sou sy jou steeds baar -
of eerder haar swangerskap wou laat vaar?

Vier dolkhale – dit was al –
om HF Verwoerd te bring tot ‘n val.
Daar word vertel jou oë was wild;
jy’t gesê dit was die lintwurm se skuld.

Soms wonder ek wat het jou besiel.
Ken jy dan nie die storie van die wiel –
dat dit een of ander tyd sal draai?
Dit het – toe hulle jou in die vangwa laai.

Sy Ontugwet het gemaak dat jy hom haat
en was die hoofrede vir jou afskuwelike daad.
Tsafendas, as Verwoerd aan bewind moes wees,
hoe sou SA se geskiedenisboeke vandag lees?

Saturday, September 26, 2009

My spieëlbeeld

Mense hou meer van jou
al is ons dieselfde gebou.
As ek vertroue in myself verloor
loop jy natuurlik daarvan oor.

As my hart in skerwe spat
bly joune heel al die pad.
As ek met ‘n probleem sukkel
het jy al klaar ‘n oplossing ontwikkel.

As moedeloosheid by my sy tol eis
is dit asof hoopvolheid op jou gesig wys.
As ek van opinie verander – onder druk swig –
bly jy hardkoppig en loop almal maar lig.

As roekeloosheid by my posvat
bly jy versigtig al die pad.
As ongeduldigheid my bestaan oorheers
sien ek jou geduldigheid dan eers.

As ek mense haat
is jy nie vir hul kwaad.
As ek swartgalligheid braak
dan steek jy die draak.

Ek en jy vul mekaar so goed aan –
daar’s niemand wat my beter verstaan.
Kan ons vir een dag plekke ruil –
jy hier – terwyl ek agter glas skuil?

Friday, September 25, 2009

Op reis êrens heen

Selfverwyte wat soos bande skree -
die hele pad – elke tree:
“Nie alweer nie...aggenee!”
“Jy het nie jou beste gegee!”

Die mense om my maak ek gedaan
as ek skielik gaan stilstaan –
dan weer verwissel van baan –
eintlik nie weet waarheen ek gaan.

By die naaste vulstasie sal ek afdraai;
my batterye gou-gou herlaai;
dan weer aanbeweeg soos die wind my waai;
met selfbeheersing soos min kan raai.

Stormagtige verhouding

Vir jare wou ons verhouding net nie vlot;
vir jare handel ons nie volgens Sy gebod;
vir jare haal jy ou koeie uit die sloot
en maak jy my binneste morsdood.

Maak nie saak hoe hard ons bid;
maak nie saak wat ons alles insit;
maak nie saak hoe hard ons probeer;
ons maak mekaar altyd seer.

Al het ek jou telkemale teleurgestel;
al was my verwyte vuil en fel;
al het ek jou en jou God verraai;
kan Mamma dan nie sien ek’t teruggedraai?

Wat meer moet ek doen?
Wanneer gaan ons versoen?
Wanneer gaan ons die verskille opsy skuif
en die verlede permanent totsiens wuif?

Thursday, September 24, 2009

Aanvaarding

Ek is wie ek is.
As jy nie van my hou...
de moer met jou.
As ek jou afpis – dis hoe ek is –
MYSELF

Wednesday, September 23, 2009

An ordinary thank you

It's not inside flowers from someone you met;
you won’t find it when searching on the net.
No, it’s there – deep inside your heart -
and not about tearing gift paper apart.

‘n Doodgewone dankie

lê nie opgesluit in 'n bos blomme wat verlep;
vind jy nie onder soekresultate op die web;
vind in jou hart vergestalting
en word nie deur geskenkpapier omring.

Eksaminering

Die lewe is nes 'n oopboek eksamen -
vir party dinge sê jy nee en ander amen.
Sy gebooie is die reëls waartoe jy jou verbind
en is in Eksodus en Deuteronomium te vind.

Herre is daar nie – jy leef net een keer –
jy kan ten minste uit ander se foute leer.
Vra is vry en weier daarby –
moenie dat moeilike vrae jou onderkry!

Die tydsduur verskil van persoon tot persoon -
party word gouer met die ewige lewe beloon.
Die Leermeester ken elke liewe student –
jy’s nie net ‘n nommer as jy jou na Hom wend.

Acceptance

I am what I am.
Those that don’t like me…
I don’t give a damn.
Life’s about what I want to be…
MYSELF

Tuesday, September 22, 2009

My moedertaal

Teen die tyd het almal die boodskap gekry -
Afrikaans se era in die polisie is verby.
Behoort al die tale nie bevorder te word?
Waar skiet regeringsamptenare tekort?

As Afrikaner is ek gebore en getoë;
as Afrikaner sal ek sterf en gaan na Bo.
Afrikaans sal ek steeds praat, skryf, luister, lees;
dit sal die moedertaal van my nageslag wees.

Monday, September 21, 2009

Koningslewe

Sal U my help om myself te vind
as vrou, volwassene en kind?
Sal U vir my verduidelik wat het verkeerd gegaan
sodat ek my situasie beter sal verstaan?

Sal U sorg vir ‘n huppel in my stap;
my waarsku om nie ander te vertrap?
Sal U weer ‘n vonkel in my oog plaas;
my die balk laat verwyder voor ek raas?

Sal U ‘n glimlag op my gesig verf;
my waarsku om nie ander se geluk te bederf?
Sal U my hart van blydskap laat sing,
my nie harte laat breek, maar myself te bedwing?

Sal U opnuut ‘n pad saam my stap;
my waarsku om nie in slaggate te trap?
Sal U my al die pad ondersteun;
my waarsku om nie my ore aan Satan uit te leen?

Sal U my sondes vergewe;
my waarsku om nie roekeloos te lewe?
Sal U my hart U woonplek maak?
Ek’t besluit om met U vertroud te raak.

Miskien môre

sal ek genoeg moed hê
om vir jou te kan sê
wie en wat ek eintlik is;
dat ek my ou self mis

sal ek vir die soveelste keer
in my lewensbestaan probeer
om my kop hoog te hou
en aan my toekomsdrome te bou

sal onbenullighede my nie onderkry;
ek nie toelaat dat ander loop oor my;
veranderinge gebeur nie oornag –
dit begin hier en nou - vandag

Sunday, September 20, 2009

K53 toets

Jy't die geen ingang bordjie na my lewe ignoreer;
soos altyd kon niks of niemand jou keer.
Jy’t ‘n plekkie in my hart verower;
jy – die geen-parkering-teken-rower.

Jy bring kleur in lewens – rooi, groen en geel;
los merke wat niks of niemand kan heel.
As onsekerheid dreig by die stopstraat
is jy elke keer daar met doeltrefffende raad.

Sonder jou in my lewe lê gevaar voor;
op my lewenspad wil ek jou nie verloor.
Sal jy aan ‘n U-draai as opsie dink
as gedagtes om te bedank vir jou wink?

Jy wat die lewe se verkeerstekens verontagsaam;
wees asseblief hierdie keer bietjie bedagsaam.
Sal jy tot by die AFTREE afrit gaan?
Jy’s goud werd – sonder jou sal produksie stilstaan.

Saturday, September 19, 2009

Nie nou nie en ook nie gou nie


Jy kan nie net ongenooid my lewe binnestap
en dan soos ‘n warrelwind wil wegwaai
omdat jy na ‘n nuwe lewenshoofstuk wil omblaai.
Gaan jy jou hartafdrukke in my lewe help lap?

Jy kan nie net verwag mense moet jou besluit aanvaar
en dat hul lewens normaalweg moet aanbeweeg,
want sonder jou is hul lewens dolleeg.
Moet ek dit uitspel of kry jy die boodskap al klaar?

Jy kan nie net jou bedanking ingee -
jy beteken baie en almal kyk altyd op na jou.
Sonder jou – verlore legkaartstuk – kan niemand bou.
Jou merke is permanent – dis nie net vir uitvee.

Wednesday, September 16, 2009

Vervloek

Jy wat
verkrag
vermoor
vat
sommer so sonder rede

Liefde versus haat

Aan jou was daar geen keer.
X ≠ Y – jy’t nie die boodskap gekry
soos die ander om uit my lewe te bly.
Hoekom moes jy met my gebeur?

Ek’t gedog jou woorde is nes jou houding,
maar ek het myself lelik misgis;
uitgevind dat jy soos Midas is;
verstaan nou wat jy by my wou tuisbring.

Jy wat soos 'n GPS rigting wys -
jou hart is nie van klip gemaak,
jy spoeg nie vuur soos ‘n draak,
jou oë is nie van ys.

Eintlik is jy ‘n omgee-mens
wat genesing wil bring –
die dat jy aan rafeltjies torring
met woorde en jou oog se lens.

Jy’t my gedwarsboom – ek’t jou gehaat,
maar gou-gou het ek geleer
om jou as persoon te waardeer;
ons liefde en haat is nes goed en kwaad.

Wednesday, September 9, 2009

Uitkoms

Here, hoe nou gemaak?
Hulle sê die lewe gaan aan
en dat als beter gaan raak;
myne het gaan stilstaan...

Gee vir my van Salomo se wysheid
en asseblief van Job se geduld,
sodat ek sal kan vasbyt
die ent uit teen die bult.

Tuesday, September 8, 2009

Vernietigingsdrang

Wat tussen ons was is
verby

Jy’t my binneste
verniel

Jy’t my lewe
verwoes

Ek’s
verpletter

Monday, September 7, 2009

Wat was en wat is

Ons lewens het soos legkaartstukke gepas;
nou hou jy my nie meer styf vas.
Op ‘n tyd het jou lippe myne aangeraak;
nou het ek niemand om mee liefde te maak.

Op ‘n tyd kon ek met my kop op jou skoot lê;
nou lyk dit asof jy my nie meer wil hê.
Op ‘n tyd kon jy vir ure met my hare speel;
nou’t jy iemand anders met wie jy jou lewe deel.

Op ‘n tyd het my hand in joune gepas;
nou is als herinneringe - deel van wat was.
Op ‘n tyd het ek gedink ons het ‘n toekoms saam;
nou’t ek jou deur my vingers laat glip en kry ek skaam.

Sunday, September 6, 2009

Jou oë

wys jy gee om;
waarsku “Moenie dink ek’s dom”;
wys jy is regverdig;
dat jy jou lewe volgens Sy wil rig;

wys wanneer is jy kwaad -
dat jy steeds liefhet en nie haat;
wys wat is toelaatbaar;
waarsku om weg te bly van gevaar;

wys wanneer jy hartseer ervaar;
waarsku wanneer is gedrag onaanvaarbaar;
wys wanneer jy gelukkig is
en ook wanneer jy iemand mis;

wys hoe jy oor mense voel;
waarsku “Ek het dit nie so bedoel”;
wys hoe jou dag was;
waarsku “Moenie my met onbenullighede belas”.

Your eyes

Every time you stare
it shows you care;
that you are fair;
it also warns don’t dare;
it tells when you are mad;
it tells when you are sad;
it warns when behaviour seems to be bad;
it reflects the kind of day you’ve had;
it tells what you accept as okay;
when there’s danger to stay away;
that you believe in Him and pray;
they express everything you want to say…

Saturday, September 5, 2009

Lengte maal breedte maal hoogte

U weet wat's my naam;
waaroor en waarvoor ek my skaam.
U weet wat’s my geslag;
wie en wat laat my gewoonlik lag.

U weet tot watter rassegroep ek behoort;
uit wie se nageslag spruit ek voort.
U weet waar’s my geboorteland;
hoe swak of sterk my familieband.

U weet watter kar ek ry
en ook waar ek bly.
U weet na watter musiek ek luister;
wanneer ek gehul is in duister.

U weet waarna ek op TV kyk;
watter handelsname in my kaste pryk.
U weet wat ek graag lees
en soos wie ek in die lewe wil wees.

U weet wanneer ek ‘n gulde geleentheid mis;
waartoe ek alles in staat is.
U weet oor watter talente ek beskik;
van al die kere in my lewe wat ek misluk.

U weet van my prestasies;
voor aftrekkings wat is my basies.
U weet van die kwalifikasies teen my muur
en wanneer is ek oorstuur.

U weet van die keuses wat ek neem
en hoe hanteer ek elke probleem.
U weet van die planne wat ek beraam;
wie se foto’s dra ek met my saam.

U weet van al die foute wat ek maak;
wanneer steek ek met wie die draak.
U weet wat ek wil vertel nog voor ek iets sê;
U weet van my benodigdhede – wat ek wil hê.

U weet van my seerste seer;
van die lewenslesse wat ek leer.
U weet wanneer ek soos Job op die ashoop sit;
dink dat dit nie help om aan te hou bid.

U weet wat’s my grootste vrees;
wanneer en waar ek my Bybel lees.
U weet van die geraamtes in my kas;
dit wat op my skouers rus – elke las.

U weet wanneer is ek spyt;
van die kere wat ek ander verwyt.
U weet wanneer slaan ek my naam met ‘n plank;
by watter instansie ek my geld bank.

U weet waarna ek streef;
hoe lank ek nog gaan leef.
U weet hoeveel hare is op my hoof;
wanneer hou ek my opsetlik doof.

Voor my geboorte het U van my geweet –
dat ek U meesterstuk sou heet.
U weet met wie en wat ek omgaan;
sal ek ooit U alwetendheid verstaan?

Playtime

Not put your hands on your head,
just like Simple Simon said.
All over you it’s red
although you’re not dead.

They say masochism is the name
of the so-called painful game.
It makes you feel ashamed –
no one but yourself to blame.

Each scar has a story to tell –
about you – not being well.
No danger to smell,
but once you fell it’s like hell…

Kuur teen die kwaad

Jou oë wat na mens staar -
dit beteken hier kom gevaar.
Mens voel jy wil in die aarde wegsink
uit vrees oor wat jy van mens mag dink.

Jou woorde is skerper as ‘n byl
en brand seerder as ‘n brandpyl;
daarmee kap jy al die kwaad uit
sonder om ‘n mens te verwyt.

Jou hande ferm, maar sag,
wat kan ‘n mens van hulle verwag?
Hulle wat troos bied,
maar ook my vrees geniet.

Agter jou moenie-met-my-mors-nie houding
waarmee jy respek by mense afdwing
is daar nie ‘n hart van staal;
daarom dat jy my by die doolweg kom haal.

Wednesday, September 2, 2009

Definisie van ‘n sekretaresse

Dankie Adrie en Marina vir die inspirasie

Sy wat weet wat die baas wil hê
nog voordat die baas iets sê.
Sy wat weet waar’s wat;
haar tweede naam is Raakvat.

Sy wat daarin slaag om koelkop te bly
as sy met ongeskikte mense te doen kry.
Sy wat dinge in ‘n japtrap reël;
vir haar is niks net nooit te veel.

Sy wie jy nie hoor kla
die slag as almal gelyk vrae vra.
Sy kom in krisistye met planne vorendag;
doen selfs meer as een ding op ‘n slag.

Sy hou van alles rekord;
keer dat dinge by die werk in duie stort.
Sy’s ‘n toonbeeld van professionaliteit
en vir die werk defintief ‘n profyt.

Tuesday, September 1, 2009

Verkeerde afrit

Snelweg...
dis nie reg.
Jy vernietig Sy tempel;
handel nie volgens Sy wil.

Eenrigting
na selfvernietiging.
Bloed is pyn -
is seer wat verdwyn.

Doodloopstraat...
niemand om mee te praat;
wat weet waardeur jy gaan;
wat deur dik en dun by jou staan.

Stop!
Kry dit in jou kop
dat Hy bereid is om jou laste te dra;
al wat jy moet doen is om te vra.