Tuesday, June 21, 2011

Definisie van geduld

Geduld is ‘n ma se

Gawe om

Elke keer as sy
De donner in is
Uiters vriendelik te
Lyk sonder
Dat ander onraad vermoed

Sunday, June 12, 2011

Ma s’n vir altyd en ewig


Jy was die rede
vir die vonkel
in my oog
na my besoek
aan die
ginekoloog.

9 maande later
laat breek
jy my water.

Jou eerste babagil
het my met
dankbaarheid gevul.

Daar was jou eerste
glimlag,
tand,
treë,
woord,
skooldag,

die matriekafskeid,

jou gradeplegtigheid,
verlowing,
troue

en vandag se vreugde
oor daardie bondeltjie
wat jy jou eie kan noem.

Lank reeds nadat jy
jou eie het wie jy
saans in die bed sit
en vir wie jy konstant
op jou knieë bly
om voor te bid...

ja, lank reeds
na dit alles
bly jy steeds
Ma se kind.

Saturday, June 11, 2011

Definisie van ‘n Ouma


Oulike tannie wat
Uit haar pad uit gaan om ander
Mammas se kinders met
Allerhande lekkernye te bederf

Friday, June 10, 2011

Die Slag van Bloedrivier


Soos soldaatjies
marsjeer hulle
die lokaal
binne in gelid
en gaan sit.

Op bevel van
die Samajoor lê
hulle aan sodra
die laaste soldaatjie
in besit is van
‘n antwoordblaadjie.

Na 2 ure en 55 minute
word hulle aangeraai
om terug te val,
want die tyd loop uit.

Na 3 ure staan hulle
soos een man
op met die wete:
Dié wat nie 50 haal nie
sal UP weer
aanstaande jaar
opkommandeer...

Sunday, May 8, 2011

Gelukkige Moedersdag Merkwaardige Vrou!

As jy
praat
spreek jy
waarheid
en jou
kyk
dui op
begrip.

As jy
luister
is dit met
geduld
en as jy
koester
is dit met
sagtheid.

As jy
vergewe
is dit sonder
verwyt
en as jy
liefhet
is dit
onvoorwaardelik.

As jy
oordeel
is dit met
regverdigheid
en as jy
dien
is dit met
oorgawe.

As jy
help
is dit omdat jy
omgee
en as jy
doen
is dit met
deeglikheid.

Friday, May 6, 2011

Oulik verby


Spesiaal geskryf vir Prof. Ferreira 

Inteendeel...

Wat jy vir
Ander beteken
As persoon kan nie eers die
Rand
Dollar-prys vertoon nie, so
Ek wil net sê:  Jy’s
Veel meer werd as wat jy
Ooit in jou
Lewe sal besef


Thursday, May 5, 2011

Ek is van nature na Sy beeld geskape

Mag my
liefde
fel op jou
neerbrand

en jy my
ondeundheid
onthou op
die dae wat
Jakkals trou
met Wolf se vrou.

Mag jy my
omgee
vereenselwig
met die
sterre
se lig

en my
skaterlag
vergestalting kry
in die rammel
van die wolke
tydens ‘n reënbui.

Mag die wind
se nadraai my
alomteenwoordigheid
na jou toe aanwaai

en die reënboog
jou altyd herinner
aan my opregtheid.