Here, hier waar ek voor die skottelgoedbak staan weet U presies wat in my gemoed aangaan.
My gebed vir vandag is dat U warm water van vrede deur my gemoed sal laat vloei sodat die vetterigheid van skuldgevoelens uit kan dreineer.
Gee dat die potskuurdae nie my siel sal verniel nie en elke tjip wat ek opdoen deur die week nie my menswees in stukkies sal laat breek nie.
En as my oë dan soos ‘n kraantjie drup uit dankbaarheid teenoor U dat ek heel bly ongeag die seer van die lewe – kom droog my af met U vadoek van ewigdurende liefde.
Ek gaan 'n skildenaar versoek om jou gelaatstrekke te verewig op ‘n doek sodat ek jou elke dag kan sien. Vir ‘n platebaas wil ek opdrag gee om jou op te neem en ‘n CD te sny sodat ek my kan verbeel jy’s by my as ek dit speel.
Die deodorant wat jy aanspuit sal ek maar altyd byderhand hou as troos vir jou teenwoordigheid. Voordat jy voortaan vir lang tye weggaan moet jy asb. van my gunsteling disse voorberei? Ek sal wel ‘n plekkie in die yskas kry daarvoor en dit dan vir my warm maak as ek honger raak. Verder sal ek vasklou aan herinneringe oor jou.
Vanoggend toe ek Kurt Darren en Nicholis Louw se “Mamma” hoor speel het ek in my hart dankie gesê vir wie ek is.
Vanmiddag toe ek Vra Dr. Adri lees het ek gewens jy kon nog ‘n rukkie langer my Sarie-vriendin wees, maar toe ek in my wêreld se koerant Beeld(e) van moord en roof sien het ek my berus by die feit dat jou Sanlam-toekoms by Jesus veiliger is.
Vanaand toe hulle die Rand/Dollar prys op die TV-skerm wys het ek besef van watter onskatbare waarde Ma eintlik was.