Tuesday, June 15, 2010

Wense vir ‘n waterwyser

Spesiaal geskryf vir Oom Johan

Mag jy nie jou geld
in die water gooi;
met spyt dink aan die
boorkontrakteur se fooi.

Mag die volgende gat
wat jy beplan om te sink
galonne water spuit wat
‘n mens sal kan drink.

Water drill.  2010.  Available at:  http://product-image.tradeindia.com/00171755/b/0/Water-Well-Drilling-Rig-PRD-Max-Drill-2000-.jpg.  Accessed:  24 July 2010.

Monday, June 7, 2010

Maak my gee 'n neem, Here

Gee dat ek nie
langer in gebed
sal vra: "Here, gee
my wat ek nodig het!"

Gee dat ek eerder
in die vervolg sal sê:
"Neem my en maak
my soos U wil hê!"

Sunday, June 6, 2010

Voorskriftelike bepalings

Jy mag my
vashou,
maar
moenie my
versmoor
nie

Jy mag my
soen,
maar
moenie met
my liggaam
mors
nie

Jy mag my
hartsnare
roer,
maar
moenie dit
breek
nie

Jy mag my
joune
noem net
as jy nie
die reëls
verontagsaam
nie

Sunday, May 30, 2010

Jou teenwoordigheid

Opgedra aan Tannie Adrie

Ek wou 'n kaartjie koop,
want ek het gehoop
dit sou mooi woorde inhê
wat presies vir jou sal sê

hoe baie jy vir ander beteken.
Later het ek selfs gereken
dat 'n boksie sjokolade
sal kan opmaak vir jou dade.

Ook het ek gedink aan blomme,
maar toe maak ek my somme -
baie mense is wel daarmee behep,
maar op die einde gaan dit verlep.

Ek gaan nou maar self vir jou sê -
dis wonderlik om jou in my lewe te hê!

Sunday, May 9, 2010

Die huis van my moeder

So sterk soos PPC
sement is die
fondasie van liefde
van jou hartkamers.

In tye van nood
is jy vir jou
huismense soos
'n steunpilaar.

Blymoedigheid oor
Sy ryklike seëninge
vertoon deur die
vensters van jou siel.

Saans in stille gebed
rig jy jou oë na die
dakkappe van geloof
van jou gesinswoning.

Moeder, vandag wil
ek vir jou dankie sê
dat jy my vir nege
maande gehuisves
het in jou baarmoeder
van geborgenheid
waardeur ek jou
wêreld kon verken.

Thursday, April 29, 2010

Graadvang

‘n Gradeplegtigheid
is ‘n geleentheid
waar jare se harde
werk en vasbyt

beloon word met ‘n
graadsertifikaat
deur die universiteit
se Raad en Senaat.

Vergete is graduandi
se aande van laatnag
wakkerbly vir toetse
en take en die gewag

vir eksamenuitslae, die
oomblik wat die dekaan
hul name lees, en hul voor
die registrateur staan

in afwagting vir die
band om hul skouers
ten aanskoue van
vriende, familie en ouers.


Tuesday, April 13, 2010

'n Sekretaresse se gebed

Dankie Adrie en Marina vir die inspirasie

Here, gee my krag
om al die duisende
take wat op my wag
die een na die ander
kaf te draf vandag.

Help my om nie kwaad
te raak as die tegnologie
my in die steek laat
en die mense om my my
ore van my kop af praat;
skenk ook aan my
kalmte as die foon
sonder ophou lui
en ek nie dokumente
waarna ek soek kry.

Maan my om te onthou -
die kere wat dit dol gaan -
hulle het Rome nie gebou
in 'n dag se tyd nie, so
wat laat my dink ek sou?
En as ek dan nie dié week
als gedoen kry nie - laat
ek nie my kop daaroor breek
en dit nie vir my voel ek
laat my baas in die steek.