Wednesday, January 6, 2010

Skouspel

Hoe hulle bo uitgekom het
kan ek nie sê nie, maar
ek sit en toekyk
hoe my helde
van vroeër
almal
val

God’s Promise

We haven't been born
with stickers indicating:
“Handle with care –
this specie is rare!”

But there is His
promise saying:
“No need to fear
when I am near!”

-Isaiah 41:10 adapted-

Tuesday, January 5, 2010

Verlore siel

Tussen die klere in my kas;
op my knieë op die vloer;
op elke moontlike plekkie
waar ek kosbaarhede sou
versteek in die verlede
tas ek soekend rond
met die hoop dat ek my gees
sal kry wat snags by my spook.

Monday, January 4, 2010

Joernaalartikel

Reeds in die Inleiding
maak ek melding van Hom
wat my as mede-outeur help skryf
aan die verhaal van my aardse verblyf.

Die inhoud bevat
nes dit maar met enige mens gaan
HOOGTEPUNTE
&
laagtepunte
van my aardse bestaan.

Ten slotte –
Sy genade alleen sal bepaal
hoeveel bladsye ons sal skryf
voor Hy my kom haal.

Die bibliografie
sal slegs een verwysing bevat
Sy Woord
waarvolgens ek my lewe rig en lei.

My mede-outeur, Jesus, sal oplaas
in die Joernaal van die Lewe
ons twee se skryfstuk plaas.

Sunday, January 3, 2010

God se boom

Maak my soos die boom in
Psalm 1
wat sy wortels in U anker –
die Ewige Lewe –
sodat ek kan vrugte dra
vir mense
en hulle U al hoe meer sien in
my

Saturday, January 2, 2010

Drafstappie deur studentwees (Deel 3)

Onthou jy
die pret om ander wakker te klop
en ‘n entjie weg te staan
wanneer die deur oopgaan
sodat jy hul gesigte kan sien;
die moeilikheid oor die vissmeer
op Alicia se kamerdeur;
die tandepasta aan die deurhandvatsels;
kleefband aan die onderkant voor die deur;
die frustrasie om op elke vloer te stop;
die dae as die hysbakke gebreek was;
by wie het jy gebedel vir ‘n las
vir sigarette by Desmondi-Kafeteria;
die angs wat op jou toesak
die dag as die hysbak
‘n paar vloere ver val
en ons moet wag vir die operateur;
die dae van saamrygeleenthede vra
as jy dit nie kon weerstaan
om saam jou pelle uit te gaan
en sosiaal te verkeer die betrokke aand;
die heimweë wat Sally Williams Nougat bring;
hoe het ons die Huislied uit volle bors gesing;
hoe het ons deurnag wakker gebly
vir eksamens, take, toetse en portfolios;
die tipiese DVD en pannekoek dae -
ons het nie oudergewoonte vroeg opgestaan
om na lesings in die L-lokale te gaan,
maar sulke dae in ons kamers deurgebring;
die kere van huis toe bel
om vir ons ouers te vertel
ons het geld nodig om
handboeke te kan koop
net sodat ons op ons manier
geld kon kry om te spaar
vir die kuiers wie weet waar
op planeet Aarde;
jou mentor dosent se eerste krit
en hoe hard het jy voor die tyd gebid;
die legendariese Pynappel voor die Bib;
die vrees vir Tannie Kas;
Kampusdokter wat nie sieknotas gee
wanneer jy jouself wysmaak
jy’s besig om siek te raak
voor jy moes gaan toets skryf;
hoe het jy dan jou lot gaan bekla
en vir ‘n sieknota gaan vra
by Little Company of Mary;
Mareli se menigte migraines;
die koue storte as die warm water op was;
ons het ons skottelgoed in die badkamer afgespoel
al was die waskamer eintlik daarvoor bedoel;
die gewag as jy die wasmasjien wou gebruik;
hoe jy metgeselle moes kry
om jou na die Huisdinees te karwei;
Oktober se eksamen ete in die eetsaal
voor jy soos ‘n skaap ter slagting gelei word
na die alombekende Gimsaal
om eksamens af te lê in jou modules;
die hartseer wanneer jy jou 50-tal mis
en die blydskap as jy wel deur is;
die eksamenregisterstrokie se kenmerkende kleur;
eksamen toesighouers wat jou inwag by die deur;
mense se vraende blik as jy sê jy swot
Sosiopedagogiese Ingenieurswese;
die vreugde om na vier jaar...selfs vyf
na die Aula te kan gaan,
langs die Dekaan te staan
en jou naam te hoor eggo;
die fotograaf Gordon Harris
wat sinoniem met Tukkies is
het die trots van daardie oomblik
vir ewig vasgevang op ‘n foto?

Friday, January 1, 2010

Nuwejaarswense

Terwyl die son sy vere regskud
om sy verskyning te maak
en jou met sy strale aan te raak -
wil ek hom voorspring vandag

deur die eerste een te wees
om vir jou te kan sê -
mag jy ‘n goeie oesjaar hê
deurdat jou drome wortelskiet.

Voor die voëls se oggendlied
wil ek Hom eers vra
om jou in Sy handpalm te dra
deur die loop van die jaar.

Voor mense van voor af begin
om planeet Aarde te besoedel –
mag Hy jou hart opnuut vul
met geloof, hoop en liefde.

Voor duisende der duisende
toeriste die Afrika vlaktes vertrap –
mag Hy jou beskerm teen Jan Rap
en sy maat wat moor van dag een af.

Voordat jy vir die eerste keer
vanjaar van die maan bewus raak
as hy sy verskyning maak -
mag Hy Sy seën op jou uitstort.