Tussen die klere in my kas; op my knieë op die vloer; op elke moontlike plekkie waar ek kosbaarhede sou versteek in die verlede tas ek soekend rond met die hoop dat ek my gees sal kry wat snags by my spook.
Onthou jy die pret om ander wakker te klop en ‘n entjie weg te staan wanneer die deur oopgaan sodat jy hul gesigte kan sien; die moeilikheid oor die vissmeer op Alicia se kamerdeur; die tandepasta aan die deurhandvatsels; kleefband aan die onderkant voor die deur; die frustrasie om op elke vloer te stop; die dae as die hysbakke gebreek was; by wie het jy gebedel vir ‘n las vir sigarette by Desmondi-Kafeteria; die angs wat op jou toesak die dag as die hysbak ‘n paar vloere ver val en ons moet wag vir die operateur; die dae van saamrygeleenthede vra as jy dit nie kon weerstaan om saam jou pelle uit te gaan en sosiaal te verkeer die betrokke aand; die heimweë wat Sally Williams Nougat bring; hoe het ons die Huislied uit volle bors gesing; hoe het ons deurnag wakker gebly vir eksamens, take, toetse en portfolios; die tipiese DVD en pannekoek dae - ons het nie oudergewoonte vroeg opgestaan om na lesings in die L-lokale te gaan, maar sulke dae in ons kamers deurgebring; die kere van huis toe bel om vir ons ouers te vertel ons het geld nodig om handboeke te kan koop net sodat ons op ons manier geld kon kry om te spaar vir die kuiers wie weet waar op planeet Aarde; jou mentor dosent se eerste krit en hoe hard het jy voor die tyd gebid; die legendariese Pynappel voor die Bib; die vrees vir Tannie Kas; Kampusdokter wat nie sieknotas gee wanneer jy jouself wysmaak jy’s besig om siek te raak voor jy moes gaan toets skryf; hoe het jy dan jou lot gaan bekla en vir ‘n sieknota gaan vra by Little Company of Mary; Mareli se menigte migraines; die koue storte as die warm water op was; ons het ons skottelgoed in die badkamer afgespoel al was die waskamer eintlik daarvoor bedoel; die gewag as jy die wasmasjien wou gebruik; hoe jy metgeselle moes kry om jou na die Huisdinees te karwei; Oktober se eksamen ete in die eetsaal voor jy soos ‘n skaap ter slagting gelei word na die alombekende Gimsaal om eksamens af te lê in jou modules; die hartseer wanneer jy jou 50-tal mis en die blydskap as jy wel deur is; die eksamenregisterstrokie se kenmerkende kleur; eksamen toesighouers wat jou inwag by die deur; mense se vraende blik as jy sê jy swot Sosiopedagogiese Ingenieurswese; die vreugde om na vier jaar...selfs vyf na die Aula te kan gaan, langs die Dekaan te staan en jou naam te hoor eggo; die fotograaf Gordon Harris wat sinoniem met Tukkies is het die trots van daardie oomblik vir ewig vasgevang op ‘n foto?