Wednesday, July 7, 2010

Vullende resepte

Daar was die boontjies
met stukkies bacon;
macaroni-en-kaas met
uie en tamatie in;

die soet-suur sous
by die niertjies;
as Lukas kom kuier -
'n beker van sy koei se bies;

die wildspastei waarvan
ek nie genoeg kon kry;
die viennas was in die
vorm van vurktande gesny;

diabeetbeskuit in die rooi blik
met die geel sterretjies op;
die vorige dag se oorskietkos
in die volgende dag se sop;

die Oats pap wat soggens voor
ontbyt op die stoof staan en prut;
gaargemaakte patats
was met skil en al voorgesit;

niemand se roereiers was
so lekker soos Ouma s'n
en mense wat kan aartappelskyfies
bak soos Ouma is maar min;

die souskluitjies wat onder geen
omstandighede mag "toeslaan"
en ek wat te klein en dom was
om die betekenis te verstaan;

so lief soos wat Ouma daarvoor
was om rou uie te sit en eet,
so lief was ons kleinkinders
vir die afgeskilde, gaar beet.

Daar is nou wel nie 'n resep
om die dood vry te spring,
maar wel waarheid in die feit dat
herinneringe versadigheid bring.




















No comments:

Post a Comment