Saturday, August 29, 2009

Weervoorspelling

Gaan donderbuie my dag versuur -
my vyande my vandag aangluur?
Of gaan dit mooi weer en warm wees –
my lewe een groot fees?

Wat beplan die mooiweersvriende van U volk –
hulle wat heet bewolk tot gedeeltelik bewolk?
Ek hoef nie te vrees wat die dag gaan bring;
nes elke ander dag geniet ek U beskerming.

Friday, August 28, 2009

Oordeelsdag

Moenie vir my sê "Daar's die deur!"
Moenie jou rug op my keer;
moenie gerugte oor my versprei;
moenie uit jammerte by my bly.

Moenie my behandel met minagting;
moenie jouself op my afdwing;
moenie my idees gedurigdeur kritiseer;
moenie my vir als wat verkeerd loop blameer.

Moenie dit waag om my te verkul;
moenie my voor ander boul vir ‘n nul;
moenie misluk wees met my –
ek gaan jou nie terugkry – maar Hy.

Wednesday, August 26, 2009

Lewenswedloop

U hardloop saam met my -
vir dae, maande, jare hou U by.
Wanneer ek oorhaastig blyk te wees
hoef ek maar net Spreuke 19:2 te lees.

As ek – U dienaar – die slag lyf wegsteek;
2 Tessalonisense 3:10 wat tot my spreek.
Wanneer ek die dag regtig moeg is
is daar in Matteus 11:28 U belofte van rus.

Die laaste hekkie sal ons saam oorgaan -
U sal langs my by die wenpaal staan –
die dag wat ek die ewige lewe behaal;
daarvoor moes U ‘n duur prys betaal.

Monday, August 24, 2009

Feesmaal

As ons drink van die wyn
en die brood stukkies breek
beleef ons saam met U die pyn
soos die spiespunte in U steek.


Volkome vry is ons van skuld -
ons skuldlas op U skouers geneem -
vir ons gesterf op Golgota se bult.
Skuldaanvaarding vir U g‘n probleem.

U wat was, is en sal wees
GENADE
Saam met ons vier U fees
as ons bely – ons wandade.

Nie net nog 'n noodkreet nie

Help!

Sunday, August 23, 2009

Die dag sal aanbreek...


dat ek 'n afgestorwene heet;
dat jy my sterk punte sal onthou;
dat jy my swakhede moet vergeet;
dat ek in gedagtes sal voortleef by jou.

Dis dan wanneer jy moet weet
ek kan steeds lag en grappies maak;
ek ervaar geen hartseer of leed
en daar’s geen probleme wat my traak.

Dis dan wanneer jy nie moet vra
waarom Hy juis besluit het op mý;
eerder dat Hy jou daardeur sal dra -
jou hand in Syne – sy aan sy.

Dis dan wanneer jy moet onthou –
al kan ek dit nie self vir jou sê -
ek is steeds baie lief vir jou.
Trane op my begrafnis wil ek nie hê.

Gebore om dood te gaan

'n Bondeltjie wat vreugde bring;
‘n naam wat pryk op ‘n grafsteen;
‘n engel wat Hom lof toesing;
is dit waartoe die lewe homself ontleen?

Thursday, August 20, 2009

Vir ewig en altyd

Dis nou al 3 jaar en 'n maand of 5
wat jy doodeenvoudig net nie terugskryf.
3 jaar en 5 maande wat jy my nie bel;
wat jy weier om jou foon op te tel.

3 jaar en 5 maande wat ons nie praat,
want jy het my dan mos nou verlaat.
3 jaar en 5 maande wat jy my ignoreer;
besef jy dan nie dit maak seer?

3 jaar en 5 maande wat jy my nie besoek;
van my verlange na jou hou ek boek.
3 jaar en 5 maande wat ek wees is,
want Hy het besluit jy moet gaan rus.

Tuesday, August 18, 2009

Geloofservaring

Vingerlek-lekker lees ons uit U Woord -
in goeie en slegte tye soos dit hoort.
As ons onvergifnis vra wanneer ons bid
maak U ons harte soos Omo weer wit.

U genees ons harte se diepste seer;
beter as Panado – dit vat nie wéér.
U gee ons krag om aan te gaan nes Red Bull;
met elkeen se lewe is daar immers ‘n doel.

Nes ADT hou U oor ons lewens wag -
vier en twintig uur elke liewe dag.
As ons met U wil praat is daar altyd sein;
U sal nie soos MTN van die lug af verdwyn.

U is U kinders se PostNet;
met al ons probleme hou U tred.
U Seun se dood – ons Outsurance Versekering;
Sy kruisdood het die ewige lewe meegebring.

U laat ons dink aan die Duracell-hasie –
geen keer aan U ons Baas nie.
Soos Netcare maak U siekes gesond;
soos Eye Care staan U vir blindes bont.

Vir dowes beteken U hoop;
U laat selfs verlamdes loop.
In krisistye los U niemand se hand –
vandaar één ry voetspore in die sand.

As ons ‘n Colgate-glimlag gee
dan doen ons dit half verleë.
U ons Aquafresh – ons Alles-In-Een -
oor duisende der duisende jare heen.

Saturday, August 15, 2009

Departement Opvoedkundige Sielkunde

Van Dr. Thea en Michelle
kan ek jou nie veel vertel.
Ek sien hulle maar min
en kon nie juis inligting inwin.

Professor Irma Eloff het ek al gesien.
Vroeër het sy as Departementshoof gedien.
Sy word toe aangestel as Dekaan
en moet na Yvonne en Ingrid gaan.

Dan is daar nog Doktor Suzanne –
‘n moeilike ene om te verstaan.
Dit help nie om met haar te stry;
sy laat haar nie maklik onderkry.

Van Adrie en Marina moet jy nie vergeet
wat die Departementele Administrateurs heet.
Doktor Ferreira se kom en gaan
teken hulle in haar dagboek aan.

Janine kry ‘n mens maar min te sien –
sy wat as Opleidingskoördineerder dien.
Soos Prof. Maree kan ek nie boeke skryf.
Is dit wat hy doen vir ‘n tydverdryf?

Met Doktor Salomé praat ek nie veel;
af en toe sal ek met haar ‘n gedig deel.
Soos wat dit hoort
is sy enig in haar soort.

Vir Sonja het ek in JNM leer ken;
sy wat jou met haar kykers vaspen.
Sy weet wat in studente se koppe maal
wanneer hul aandag in die klas afdwaal.

In OPV moes ek Prof. Liesel se werke lees,
ek wil ‘n Opvoedkundige Sielkundige wees -
soos Salomé, Sonja en Suzanne slim word,
Sielkunde is egter wat ek kort.

Doktor Ferreira kry mens maar min te sien;
sy wat deesdae as Departementshoof dien.
Selde drink sy saam met die ander tee;
om van boetes te vertel bring niks mee.

Doktor Prinsloo en Tshepiso ken ek gewis;
herinneringe is al wat oor is.
Eers het hulle vir hulself naam gemaak
en toe besluit om hul dienste te staak.

Van Freda, Melanie en Tilda het ek verneem;
die vertaling van hul notas skep ‘n probleem.
Van my vriende word ek vervreem
en dit laat my breinkrag afneem.

Van Lazuros het ek al gehoor;
hy is die eintlike een wat my moor.
Opvoedkunde studente kan na Riandie gaan
wanneer hulle nie hul werk verstaan.

Carine kry jy net drie dae ‘n week te sien;
sy wat as Navorsingsassistent dien.
Nooit hoor jy sy sê nee
wanneer iemand vir haar werk gee.

Suné, Janna en Marlize waarvan jy lees
was ook deel van die span gewees.
Het hulle hul werkery gestaak
omdat die studies te veel raak?

Prof. Bouwer se werke het ek nie gelees,
maar ek neem aan sy moet slim wees –
die dat sy Professor heet.
Of is ek nou verkeerd?

Nes Ruth en Hermien wil ek Doktor heet;
sonder selfmotivering kan ek vergeet.
Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg...
Dr. Mokgadi praat Afrikaans glad nie sleg.

Dr. Carien vra altyd om die projektor op te stel;
herinner jou nie soos Adrie om jou ure te tel.
Lina het ek een keer skrams gesien;
sy wat ook by Tuks ‘n inkomste verdien.

Vra Dr. Kesh ons om saam te kuier
is dit ek en Carine wat weier.
Ons is immers geleer
om ons meerderes te eer.

Tuesday, August 11, 2009

Verstrengelde bestaan

Jou pyn - my pyn
tot die trek van jou gesig verdwyn.
Jou geluk – my geluk
telkens as jy deurdruk.

Jou depressiwiteit – my depressiwiteit;
dit help nie om mekaar te verwyt.
Jou las – my las
nie net wanneer jou handjie in my grote pas.

Jou vrees – my vrees
as ons die koerant oopvou en lees.
Jou frustrasie – my frustrasie;
moet jou nie in die lewe haas nie!

Jou fout – my fout;
dat ons daaruit kan leer is ons behoud.
Jou skuld – my skuld;
daar’s baie wat ek kan duld...

Jou moedeloosheid – my moedeloosheid;
ek kan sien as iets byt.
Jou traan – my traan;
niemand sal my liefde vir jou verstaan.

Jou glimlag – my glimlag
as ‘n verrassing opduik die dag.
Daar’s nie meer ‘n naelstring wat ons bind,
maar vir altyd en ewig bly jy my kind.

Monday, August 10, 2009

Wat noem jy dit?


As jy voel jy kan nie meer -
voel jy hopeloos of moedeloos?
As ander jou frustreer –
raak jy gatvol of keelvol?

As ander jou lewe wil reël –
is hul nie besig om jou te domineer?
As ander oor hulself loop en spog –
blaas hul dan hul eie beuel?

As ander jou nie wil aanvaar –
word jy verwerp of verstoot?
As jou woedebuie nie wil bedaar –
is die gort dan nou gaar?

As ander jou slegsê –
is dit afkraak of verkleineer?
As ander dink hul is beter as jy –
is dit waarvoor mens hoogmoed sê?

As jy voel niks kan jou meer traak;
traak-my-nie agtigheid of voel jy ‘n veer?
As ander van hulself ‘n oorlas maak –
is dit wanneer jy van ‘n laspos praat?

As ander jou in die steek laat –
is dit wanneer hul kop uittrek?
As ander stories oor jou versprei –
is dit skinder of kwaadpraat?

As jy dinge sê wat jy later sal berou –
is dit wanneer jy sê spyt kom te laat?
As jy ander mense nie kan vertrou –
sê jy hulle is skelm of slinks?

As jy nie weet waar jy inpas –
onsekerheid of ‘n identiteitskrisis?
As jy terugdink aan gelukkiger tye –
is dit heimwee oor wat was?

Saturday, August 8, 2009

Ouers se rolle

Hulle wat polisieman speel
weet as jy met verkeerde vriende heul.
Hulle wat selfs paneelkloppers is;
so leer kinders uit hul foute gewis.

Hulle wat nes die bankbestuurder geld leen,
maar sonder rente oor die jare heen.
Hulle wat nes die tandarts tande trek;
die melktande wat nie kommer wek.

Hulle wat jou nes dokters gesond maak,
maar met boererate as jy siek raak.
Hulle wat selfs sielkundige speel;
wie raad gee wanneer jy jou probleme deel.

Hulle wat nes dominees vir jou bid
wanneer jy met ‘n krisis op hande sit.
Hulle wat jou verdedig soos ‘n advokaat;
as mense met jou mors raak hul kwaad.

Hulle wat nes onderwysers hulp verleen
met opdragte oor jou skoolloopbaan heen.
Hulle wat nes ‘n boer ‘n plan maak
as kinders vergeet van ‘n skooltaak.

Hulle wat vir kinders chauffeer speel
sonder om ooit daaroor te neul.
Hulle wat selfs weervoorspellers heet;
wie weet watter buie pak kinders beet.

Hulle wat nes die veearts diere versorg
as kinders weg is en selfs die kos borg.
Hulle wat selfs begrafnisondernemers is
wanneer troeteldiere se harte ‘n hartklop mis.

Hulle wat jou soos kelners bedien;
wie jy voor die stoof en braaivleisvure sien.
Hulle wat jou aan haarkappers laat dink
sodra jy hoor ‘n kopwassery wink.

Weet hulle waarvoor hulle hulself inlaat –
hy in ‘n kerkpak, sy in haar bruidsgewaad
as gaste sing kinders by dosyne –
soms ons s’n, joune, myne?

Thursday, August 6, 2009

Dankie Pappa

Dat jy nooit daarvoor moeg raak
om stukkende speelgoed reg te maak.
Dat jy vir ons geld skool toe gee;
nooit vir ‘n spelery sê nee.

Dat jy my op jou nek ronddra
as ek oor dorings op die grasperk kla.
Dat jy ons van kleintyd af leer:
“Mislukkings sê jy moet harder probeer!”

Dat jy saans die hekke en deure sluit;
moordenaars sal sukkel om ons lewens te buit.
Dat jy in die aande vir ons almal bid;
agter ons aanloop en die ligte afsit.

Dat jy nooit jou kinders verwens -
jy wat weet foute maak is sinoniem met mens.
Dat ek my nie oor my opvoeding hoef te skaam
as my maatjies se ouers sê: “Kom saam!”

Wednesday, August 5, 2009

Wonder bo wonder

Soms wonder ek wat's my doel -
die kere as ek depressief voel.
Soms wonder ek of ek sal kan uithou;
wat’s die waarde van toekomsdrome bou.

Soms wonder ek waarom ek nie verstaan –
dit wat deur my gedagtes gaan.
Soms wonder ek waarom is ek nie emosioneel sterk
dat ek gebeure op my eie kan verwerk.

Soms wonder ek hoe ander kan baat,
maar nie ek nie, by my eie raad.
Soms wonder ek hoevéél nóg om te trotseer;
wat is die doel van aanhou probeer.

Soms wonder ek wat help dit om omtegee;
dit bring nie altyd bevredigende resultate mee.
Soms wonder ek waarom ek hard op myself is
die kere wat ek per ongeluk sperdatums mis.

Soms wonder ek hoevéél nóg om te verduur;
of my lewe besig is om op ‘n ramp af te stuur.
Soms wonder ek watter doel selfmutelasie dien –
die kere wanneer ek geen uitkoms sien.

Soms wonder ek hoe voel dit om gelukkig te wees
soos die storieboekkarakters waarvan mens lees.
Soms wonder ek hoeveel dit U nie moet kos
om 24 uur vir 7 dae lank nie my hand te los.

Tuesday, August 4, 2009

Gedagtegang

Ek voel vanaand teneergedruk;
wonder
is my lewe besig om te misluk?

Ek voel verskriklik moeg;
wonder
waarvoor ek nog swoeg.

Ek voel ek wil skree;
wonder
wat bring dit mee?

Ek voel buite beheer;
wonder
is dit die eerste of laaste keer?