Sunday, February 28, 2010

Gebed vir my matriek broertjie

Dis die begin van sy matriekjaar -
oor ’n paar maande maak hy klaar.
Mag hy hom op kulturele gebied
vir oulaas vanjaar gate uit geniet.

As hy nie oor sportprestasies kan lag -
gee dat hy hom nie minderwaardig ag.
Gee dat hy sal berus in die feit -
om weer te leer loop vat maar tyd.

Mag sy verstand glashelder wees
sodat hy dit sal onthou wat hy lees.
Gee dat hy Teologie kan gaan studeer -
hy wat ander nog altyd van U wou leer.

Ek het nou wel nie veel om hom te bied,
maar kan vra dat hy U goedheid mag geniet.

Friday, February 26, 2010

Moederliefde

het 'n buitengewone
moeilikheidsgraad,
want dit
omwentel
die
som
van ‘n kind
se bestaan
sonder om te
verminder
by aanvaarding
van die
onveranderlike;
nie eers ‘n
verlies
aan respek
kan dit
halveer
nie en dit
vermenigvuldig
by die aanhoor
van goeie nuus.

Tuesday, February 23, 2010

Gebed vir die voorsitter

Here, tot dusver het dit
buitengewoon goed gegaan
met hierdie man wat
bo sy makkers uitstaan.

Gee dat hy nie die
vertroue sal skend
van sy volgelinge wat
hulself na hom wend.

Gee dat hy sy skool
se naam nie sal skaad
aandoen, maar leerkragte
met lof van hom sal praat.

Gee dat hy probleme
effektief sal hanteer
en nie alewig ander
soek om te blameer.

Gee dat hy ten alle
tye nederig sal bly;
homself steeds daagliks
aan U woord sal wy.



Monday, February 22, 2010

Soekend na U

As ek teen 'n muur vas bid -
my gebede onbeantwoord bly -
dan dink ek aan die ruimtereisiger
wat vertel het hy kon U nêrens kry.

Dis dan dat ek soos Job in hoofstuk
23 geneig is om angsbevange te raak
en Satan my allerhande dinge
omtrent godverlatenheid wil wysmaak.

Here, vergewe my asseblief my
swakheid die kere wat Thomas
se ongelowigheid posvat in my en ek
in my soeke na U, U heeltemal mistas.

Friday, February 19, 2010

Slaaptydstories

Voor Klaasvakie
se sand veroorsaak
dat jy van moegheid
aan die slaap raak
moet die vent net
eers ’n bietjie wag,
want ek het nog
nie vir jou gesê “Nag!”

Friday, February 12, 2010

Vergelykende studie

'n Module is nie
maklik as die vraestel
so moeilik soos
die dosent is nie.

Sunday, February 7, 2010

Bron van kwaad

Die boom van kennis van goed
en kwaad is nie die enigste
bron van kwaad nie, maar ook
die mens se tong wat skade
van onbeperkte omvang aanrig
weens die mens se onvermoë
om die impak van sy woorde
op ‘n ander se ego te bepaal.