Friday, July 31, 2009

Dankie Mamma

Dat jy altyd noodhulp doen;
gebroke harte en sere gesond soen.
Dat jy my boeke agter my aanry;
ek nie by my juffrou moeilikheid kry.

Dat jy lekkers skool toe gee
al sê die tandarts daarvoor nee.
Dat jy geld sonder rente uitleen;
ons langs die sportveld ondersteun.

Dat jy oor kêrels, kopluise en klere raad gee
selfs al bring dit nie verandering mee.
Dat jy sorg vir die klere aan my bas;
dat jy nie kinderskry beskou as ‘n las.

Dat jy altyd luister as ons bel;
van die verlange na jou kospotte vertel.
Dat jy ons in liefde vermaan
al lyk dit nie of ons dit so verstaan.

Wednesday, July 29, 2009

Hou op...

om keuses namens my te maak
oor dit wat julle glad nie raak;
om my te vertel wat ek moet doen -
jul moet met mý besluite versoen;

om my lewe namens my te leef –
jul weet immers nie waarna ek streef;
om my aan te hou druk
sodat ek moet inpas in ‘n blik...

Tuesday, July 28, 2009

Op pad na herstel

Opgedra aan Marina Malan

Gee dat sy gou beter sal voel
al verstaan sy nie alles se doel.
Sal U haar seer laat verdwyn;
deel van die bestraling se pyn?

Gee dat haar veggees behoue bly;
niks of niemand haar onderkry.
Sal U keer dat sy moedeloos raak
en voel niks kan haar meer traak?

Gee dat die kanker nooit weer
na haar liggaam sal terugkeer.
Sal U elke tree by haar wees;
haar volkome daarvan genees?

Monday, July 27, 2009

Verskuilde bestaan

Doktor Bester deur en deur...

Niemand om mee kragte te meet
en wat die antwoord op elke vraag weet,
niemand om mee te argumenteer,
niemand wat die kliniek beheer,
niemand wat laatmiddag tee soek
en wat weet wat staan waar in elke boek,
niemand wat ander aanstaar
en dan dinge meedeel en dan is dit sommer
WAAR

Daardie iemand verskuil agter al die niemands...
JY
wat met jou afwesigheid ‘n leemte laat

Friday, July 24, 2009

Skaakmat

Polisiemanne om jou heen.
Jy – ‘n man, ‘n moeder se seun.
Die impak het jou lewe geëis;
die motorwrak dien as bewys.

Leweloos hang jou liggaam.
Jy – ‘n nommer, nie meer ‘n naam.
Nooit weer ‘n pion op die pad.
Die dood is nes skaakmat.

Wednesday, July 22, 2009

Betalend om ‘n pa te wees?

Hulle wat ADT betaal
om skelms uit die huis te haal.
Hulle wat vreeslik vinnig ry
en dan nog kla as hul boetes kry.

Hulle wat tuindienste betaal
om weekliks bossies uit te haal.
Hulle wat die loodgieter bel
as ma’s oor verstopte dreine skel.

Hulle wat mediese uitgawes betaal
volgens ‘n bepaalde voordeleskaal.
Hulle wat die elektrisiën bel
en van die stukkende wasmasjien vertel.

Hulle wat die Oorgangsraad betaal
wat met betrekking tot dienslewering faal.
Hulle wat van alles in die koerant weet,
maar verjaarsdae en herdenkings vergeet.

Hulle wat die huispaaiement betaal
en wonder wanneer rentekoerse daal.
Hulle wat glo ‘n pakslae op sy tyd
is soos brood en konfyt.

Hulle wie jy nie hoef te betaal
as hul jou in die sitkamer loop haal.
Hulle wat jou in jou bed neerlê
al het jy vergeet om nag te sê.

Hulle wat die selfoonrekening betaal;
agterna Vodacom met navrae opsaal.
Hulle wat daarvan hou om vis te vang;
vir slange en spinnekoppe is hul nie bang.

Hulle wat selfs oorsese skeidsregters sal betaal
sodat die Bokke en Proteas ‘n sege kan behaal.
Hulle wat nie skeidsregters se beslissings verstaan;
vir wie ma’s oor hartaanvalle voor die TV vermaan.

Hulle wat ook hul kinders betaal
sodra die kinders die A-span haal.
Hulle wat af en toe ‘n vleisie braai
op voorwaarde dat ma’s sorg vir slaai.

Hulle wat jou studiegeld betaal;
nie soos ma’s karring as jou punte daal.
Hulle met wie se geld ons vakansie hou;
wie se geld goed genoeg is as jy wil trou.

Hulle wat deesdae die SAUK betaal,
so lyk dit my, om die kollig te haal.
Hulle wat hope geduld kort...
verdien om bederf te word.

Hulle wie jy nie hoef te betaal
om hul goeie boekies te haal.
Hulle het hul kinders onvoorwaardelik lief;
niks kan dit verander – nie eers ‘n dief.

Gebed op jou verjaarsdag

Opgedra aan Dr. Ronél Ferreira

Sal U aan haar troos bied
wanneer sy hartseer ervaar?
Mag sy goeie gesondheid geniet
en U haar nog lank spaar.

Sal U Uself aan haar openbaar
ook wanneer dit goed gaan;
die kere wat sy vreugde ervaar
in haar menslike bestaan?

Sal U haar ondersteun
as sy keuses moet neem
oor die komende maande heen;
niks is mos vir U ‘n probleem?

Sal U vir haar kalmte gee
as sy krisisse moet hanteer,
dit wat haar grys maak...o wee,
dra haar asseblief daardeur?

Sal U haar mooi laat verstaan
sy is ‘n spesiale engelmens?
Gee dat sy daarop ag sal slaan.
Vrede vir haar is nog ‘n wens.

Skenk aan haar krag
vir die rolle wat sy vervul
by die huis en werk elke dag.
Ek vra dit alles om U ontwil.