Sunday, December 27, 2009

Wense vir jou

op jou verjaarsdag
Skoppensvrou

Toe ek vanoggend opstaan
het ek op my knieë gegaan

en

jou aan Hom opgedra
en Hom mooi gevra
om jou nog lank te spaar
en teen onheil te bewaar

en

ek het vir Hom dankie gesê
om iemand soos jy te kan hê
wat blydskap in lewens bring
en harte van vreugde laat sing

en

ek het vir Hom gevra
om jou op Sy hande te dra
wanneer stormwaters woed
binne in jou gemoed

en

ek het vir Hom gesê
dat ek graag wil hê
Hy moet jou teenaan Sy bors hou
en met Sy Godlike liefde omvou

en

ek weet Hy het my gehoor...
dat Hy my gebed sal verhoor.

Saturday, December 26, 2009

Hartsake

As ek 'n deursnit moet maak
deur my hart,
wat sien ek raak?

Haat
teenoor die wat my emosioneel afbreek
en die wat my in die rug steek
Liefde
teenoor die wat my met hulle s’n oorlaai
en die wat nie net loop en onmin saai
Woede
vir myself as ek nie presteer na wense
en teenoor agterbakse mense
Dankbaarheid
teenoor die wat my ten alle tye ondersteun
en in moeilike tye hul ore uitleen
Twyfel
oor die doel van my menslike bestaan
as alles nie voor die wind gaan
Geloof
in Hom wat aan die kruis moes sterf
sodat ek die ewige lewe kan beërf
Vergewensgesindheid
teenoor die wat my hart verwond
met dit wat kom uit die mond
Skuld
as ek ander se ondergang bewerkstellig,
nie vure doodslaan, maar brande stig
Jammerte
vir die wat swaarkry
en aan ongeneeslike siektes ly
Moedeloosheid
oor die depressie monster homself nie uitwoed
en dinge nie uitwerk soos dit moet
Hoop
dat dinge sal beter word
en my probleme hulself uitsort

Friday, December 25, 2009

Kersgeskenk

Ek kon nie koerierdienste kry
wat na my sin vinnig genoeg ry;
so dis geensins ‘n wonder
as my hart jou nie bereik sononder.

Ek wou ‘n faksmasjien gebruik
sodat my glimlag jou kan bereik,
maar wat ‘n ontnugtering –
dit sal nie my glimlag by jou uitbring.

Ek wou hê jy moet bewus raak
van die feit dat jy my gelukkig maak,
maar het getwyfel of jy voor Kersfees
jou elektroniese pos sou lees.

Ten einde laaste het ek vir Kersvader
met my dringende versoek genader...
ontvang ‘n omgee plantjie as geskenk
as jy op die 25ste Sy geboorte herdenk.

Thursday, December 24, 2009

Irma

Dat Prof. Eloff se naam nou soveel betekenis dra...

Intelligente
Roemryke
Mensliewende
Akademikus

Wednesday, December 23, 2009

Kerswens

Mag Sy beskermengele met jou wees
waar jy mag gaan hierdie Kersfees.
Mag Sy liefde na jou toe aanwaai
as jy geliefdes met joune oorlaai.

Mag Maria en Josef se kind
se vrede in jou hart vergestalting vind.
Mag blydskap jou mondhoeke aantas
en jy nooit weer jou glimlag kan afwas.

Mag jy op Kersdag hierdie jaar
Koningskind-wees se vreugde ervaar.
Mag Hy jou uit jou sokkies seën
en dit Kersdag net persente reën.

Tuesday, December 22, 2009

Liefde in enkelvoudsvorm

'n
Verhouding
gaan
nie
werk
nie
want
ons
gevoelens
is
nie
ewe
sterk
nie
Dis tyd
dat ek my
vlerke sprei
en soek tot ek
die regte lewensmaat kry

Sunday, December 20, 2009

Simboliek

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
sonder soetkoekies en gemmerbier
sal ons moet Kersfees vier –
jou spesialiteit is saam die graf in;
ander probeerslae proe nie soos Ouma s’n.

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
ons hoef nie vir jou te dek
want jy het ‘n spesiale plek –
Ouma is die engel wat die glans vang
waar Ouma bo aan die kersboom hang.

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
al skyn jou aardse liggie nie meer
kyk Ouma van bo op ons neer –
as ons opkyk sien ons Ouma raak;
Ouma is nou die ster wat lig maak.

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
Ouma was ‘n groot geskenk
van Hom wie se geboorte ons herdenk –
dit maak van elke kleinkind ‘n Koningskind
want ons was aan bloed van jou verbind.

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
al is daar nie seep of handeroom
van Ouma af onder die boom –
Ouma was die grootste geskenk gewees
tydens 1922 se Kersfees.