Thursday, December 31, 2009

‘n Leeftyd se stories

Toe ek deur die gisters blaai
sien ek jou op bladsy 2009
waar jy vriendelik vir my waai.
Net toe ek wou nader kom
aan jou, vasgevang in ‘n foto,
waai tydwysers die bladsy om
na die bladsy genommer 2010.
In die bladsy-boskrif is ons name,
maar ongelukkig kan ek nie sien
hoe die nuwe verhaal gaan lees.
Al waarvan ek tans bewus is,
is wie die skrywers gaan wees.

Drafstappie deur studentwees (Deel 2)

Onthou jy
Donderdae het ons na Hatfield opgetrek;
die kuiertjies by Oom Gert se Plek;
die gatswaai op Drop Zone se dansbaan;
Good 4 Fellows se gatskop Afrikaanse musiek;
Cheeky Monkey se heerlike cocktails;
Hergunters se specials op brandewyn
en wanneer jou maag van honger pyn
Vetkoek Maleis se heerlike vulsels;
Odds was bykans altyd oorvol
as ons daar wou gaan jol;
Aandklas se stemmige atmosfeer
en die enkele besoek aan Sin Bin;
die kareoke aande by Greentrees;
die koelte kuiers onder die bome
en al ons toekomsdrome
wat ons met mekaar gedeel het;
die vreugde van kerk toe gaan
as jy besef dat jy nie alleen staan
in geloof wanneer almal as ‘n groep
Universiteitsoord se banke volsit;
die keer wat ons gaan fliek het by Menlyn;
hoe het ons Spur se kelners gebol
by Brooklyn Square digby die Mall
deur te sê iemand verjaar;
hoe jy met Ching Chong Chinamen
‘n Sjinees kon opwen;
die ekspedisies na die eetsaal se dak
om Pretoria se liggies saans te sien;
die Telkom toring was ons baken
van lief en leed
wat ons nie sal vergeet
solank studentwees in memoriam is;
die swaai sessies by Magnolia Dell;
ons idee van krieketspeel sonder ‘n bal
in die middel van die koshuisgang;
die stories van Afkop Antjie in die donker;
die besoeke aan Varsity Bakery;
Woensdae was Roman’s Pizza Dag;
die beste was die 10% afslag
vir studente by die bottelstoor;
Lentedae se laatlê en die leeglê by LC –
daardie een dag wat jy nie omgee
oor jou akademiese lewe
en nie presensielyste hoef te teken;
die opskudding oor Die Perdeby –
almal wou altyd eerste wees
net om te kan lees
wat Pssst van Huis Inca sê;
die reuk wat in jou neusvleuels optrek
as hulle die gras op kampus bedek
met kunsmis op snikhete somersdae
sodat Groenkloof sy naam gestand kan doen?

Wednesday, December 30, 2009

Drafstappie deur studentwees (Deel 1)

Onthou jy
Virgin Active se sessies die eerste 2 weke;
die busritte om Topbestuur te gaan ontmoet;
hoe ons die seniors en HK moes groet;
Amelda se Little Red Bug liedjie;
hoe opgewonde het jy geraak
toe jy jou debuut moes maak
as eerstejaar in die Amfiteater
die aand met Ienkmelodienk;
die vreugde en verdriet van Ienkdrag dra;
die HK wat sê waarheen jy nie mag gaan nie;
jool saam met Kiaat, Voortrekker, Mopanie;
telefoondiens tye in die voorportaal;
sêrrie voor al wat ‘n manskoshuis is
en die volgende dag se wondersoete rus;
die gespook en geskarrel voor huisweek
om vloerversierings in plek te kry;
die jaarlikse optrek na die Aula
deur studente om te gaan kyk
hoe die eerstejaars lyk
op die verhoog met Ienkkonsert;
huisvergaderings wat tot laat aanhou
waar vermoeides die met klaagliedere uitjou;
een keer ‘n week se Show Your Love Day
om vir die seniors te wys jy gee om;
die opgewondenheid oor die ontheffing
voor die tweede semester se Prim-sirkus;
die HK Sirkus wat niemand maklik mis;
die socials van Donderdae aande;
die semi versus senior rugby
gereël deur Christa & Kie;
die tragedie as jy jou sleutel toesluit
binne in jou koshuiskamer
en die heldeverering in jou oë
as Mareli haar lewe waag
en dan daarin slaag
om jou deur van binne oop te maak;
die koffie kuiers op die brandtrap;
Sonika se 30 Seconds om jou intellek te toets;
Mareli wat musiek maak met haar kitaar;
Corlie die bobaas braaister;
Louise en Leandra se pap en sous;
Ilse wat inbars vir ‘n sigaret?

Monday, December 28, 2009

Game Over

Voor jy my met jou vinger skiet
soos ‘n domino
en ek en my gevolg inmekaar tuimel
soos ‘n kaarthuis
moet jy eerder eers jou skuif deurdink
Koning
voor jy onttroon in die maag beland
van die slangetjie!

Sunday, December 27, 2009

Verkragtingslagoffer

Jy het gedink ek sou losbandig raak
en dan met jou wil liefde maak,
juis daarom het jy my drank gevoer.
Jy’t gedink op my voorkop staan hoer.

Jy het jou geld voor my rondgeswaai
en my vertel hoe jy my sou naai.
Jy is verslaaf aan pornografie;
dít sal jy nie aan jou vrou vertel nie.

Jy kon nie jou jagsheid beheer;
aan jou was geen salf te smeer.
Jy het jouself op my afgedwing;
my op die godverlate plek bespring.

Jy het nie net my binneste verniel
toe jy my infiltreer het met jou piel;
ook my selfbeeld het ‘n knou gekry;
teen depressie kan ek nie baklei.

Oom, wie sou ooit kon dink
die buurdogter sou jou semen drink?
Jy het nie net my vrouwees vernietig,
maar my hele flippen lewe ontwrig.

Wense vir jou

op jou verjaarsdag
Skoppensvrou

Toe ek vanoggend opstaan
het ek op my knieë gegaan

en

jou aan Hom opgedra
en Hom mooi gevra
om jou nog lank te spaar
en teen onheil te bewaar

en

ek het vir Hom dankie gesê
om iemand soos jy te kan hê
wat blydskap in lewens bring
en harte van vreugde laat sing

en

ek het vir Hom gevra
om jou op Sy hande te dra
wanneer stormwaters woed
binne in jou gemoed

en

ek het vir Hom gesê
dat ek graag wil hê
Hy moet jou teenaan Sy bors hou
en met Sy Godlike liefde omvou

en

ek weet Hy het my gehoor...
dat Hy my gebed sal verhoor.

Saturday, December 26, 2009

Hartsake

As ek 'n deursnit moet maak
deur my hart,
wat sien ek raak?

Haat
teenoor die wat my emosioneel afbreek
en die wat my in die rug steek
Liefde
teenoor die wat my met hulle s’n oorlaai
en die wat nie net loop en onmin saai
Woede
vir myself as ek nie presteer na wense
en teenoor agterbakse mense
Dankbaarheid
teenoor die wat my ten alle tye ondersteun
en in moeilike tye hul ore uitleen
Twyfel
oor die doel van my menslike bestaan
as alles nie voor die wind gaan
Geloof
in Hom wat aan die kruis moes sterf
sodat ek die ewige lewe kan beërf
Vergewensgesindheid
teenoor die wat my hart verwond
met dit wat kom uit die mond
Skuld
as ek ander se ondergang bewerkstellig,
nie vure doodslaan, maar brande stig
Jammerte
vir die wat swaarkry
en aan ongeneeslike siektes ly
Moedeloosheid
oor die depressie monster homself nie uitwoed
en dinge nie uitwerk soos dit moet
Hoop
dat dinge sal beter word
en my probleme hulself uitsort

Friday, December 25, 2009

Kersgeskenk

Ek kon nie koerierdienste kry
wat na my sin vinnig genoeg ry;
so dis geensins ‘n wonder
as my hart jou nie bereik sononder.

Ek wou ‘n faksmasjien gebruik
sodat my glimlag jou kan bereik,
maar wat ‘n ontnugtering –
dit sal nie my glimlag by jou uitbring.

Ek wou hê jy moet bewus raak
van die feit dat jy my gelukkig maak,
maar het getwyfel of jy voor Kersfees
jou elektroniese pos sou lees.

Ten einde laaste het ek vir Kersvader
met my dringende versoek genader...
ontvang ‘n omgee plantjie as geskenk
as jy op die 25ste Sy geboorte herdenk.

Thursday, December 24, 2009

Irma

Dat Prof. Eloff se naam nou soveel betekenis dra...

Intelligente
Roemryke
Mensliewende
Akademikus

Wednesday, December 23, 2009

Kerswens

Mag Sy beskermengele met jou wees
waar jy mag gaan hierdie Kersfees.
Mag Sy liefde na jou toe aanwaai
as jy geliefdes met joune oorlaai.

Mag Maria en Josef se kind
se vrede in jou hart vergestalting vind.
Mag blydskap jou mondhoeke aantas
en jy nooit weer jou glimlag kan afwas.

Mag jy op Kersdag hierdie jaar
Koningskind-wees se vreugde ervaar.
Mag Hy jou uit jou sokkies seën
en dit Kersdag net persente reën.

Tuesday, December 22, 2009

Liefde in enkelvoudsvorm

'n
Verhouding
gaan
nie
werk
nie
want
ons
gevoelens
is
nie
ewe
sterk
nie
Dis tyd
dat ek my
vlerke sprei
en soek tot ek
die regte lewensmaat kry

Sunday, December 20, 2009

Simboliek

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
sonder soetkoekies en gemmerbier
sal ons moet Kersfees vier –
jou spesialiteit is saam die graf in;
ander probeerslae proe nie soos Ouma s’n.

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
ons hoef nie vir jou te dek
want jy het ‘n spesiale plek –
Ouma is die engel wat die glans vang
waar Ouma bo aan die kersboom hang.

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
al skyn jou aardse liggie nie meer
kyk Ouma van bo op ons neer –
as ons opkyk sien ons Ouma raak;
Ouma is nou die ster wat lig maak.

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
Ouma was ‘n groot geskenk
van Hom wie se geboorte ons herdenk –
dit maak van elke kleinkind ‘n Koningskind
want ons was aan bloed van jou verbind.

As ons Kersdae aansit vir ete
dan is dit met die wete -
al is daar nie seep of handeroom
van Ouma af onder die boom –
Ouma was die grootste geskenk gewees
tydens 1922 se Kersfees.

Saturday, December 19, 2009

Dodelike depressie

Pille vir die pyn
lem teen die vel
strop om die nek
kolskoot teen die kop
kaboem
lewelose liggaam
stywe spiere
treurmars

Sunday, December 13, 2009

Bankrot

Selfs logika betaal 'n prys
as jy geluk vir geld verruil
en besef dit was nie wys...

Thursday, December 10, 2009

Tuesday, December 8, 2009

Oortreffende trap

Goed, ek het gedink ek weet beter,
maar agtergekom jy weet die beste.

Sunday, December 6, 2009

Goeie gebaar

Seerkry is nie vir sussies nie -
die dat ek my oor jou ontferm,
‘n hartwag kry wat jou beskerm,
sodat jy jou Twinsavers kan spaar.

Wednesday, December 2, 2009

Gebed van ‘n geneesheer

Gee dat my werke
‘n sukses sal wees
en dat die merke
volkome sal genees.

Tuesday, December 1, 2009

Waarskuwing


Dit doen jou ego skaad aan
as jy nie vir hulp gaan.
Deur te erken jy’t ‘n probleem
sal niks van jou afneem.

Wees daarop bedagsaam –
moenie gevaar verontagsaam!
Dit maak die skade soveel minder
en kan onnodige seer verhinder.