Monday, November 30, 2009

Hardkoppigheid

Jy behoort uit jou foute te leer;
nie ander daarvoor te blameer!
Jy wat nou in die stof byt –
die argitek van jou eie moeilikheid.

Saturday, November 28, 2009

God se goedheid

Hy beskerm teen die kwaad;
Hy luister as ons wil praat;
Hy voorsien as ons vra;
Hy sal ons deur storms dra.

Hy vertroos as ons hartseer is;
as ons moeg is gee Hy rus;
Hy vergewe as ons sondig –
uit genade – nie uit plig.

Adrie

Opgedra aan Adrie van Dyk

Almal se vriendin
Dierbare mens
Regterhand vir baie
Innemende geaardheid
Eerlik soos goud

Thursday, November 26, 2009

God se bruikleenooreenkoms

Hy leen ons slegs uit
vir ‘n bepaalde tyd.
Hy vat as ons dit nie verwag –
helder oordag - selfs laatnag.

Wednesday, November 18, 2009

Tegnies gesproke

Jou naam en nommer gestoor
in my leesalleengeheue;
nooit sou ek dit kon verloor
behalwe deur dit af te vee.

My inligting was gestoor
in jou lees- en skryfgeheue,
jy’t die vonkel in jou oë verloor,
my gegewens uit jou geheue gevee.

Sunday, November 15, 2009

Middelpunt

Julle is alewig aan die baklei
nes twee honde oor ‘n been
EK
Wie gaan die oorhand kry
oor die komende weke heen?

Saturday, November 14, 2009

Seënwense

Spesiaal geskryf vir Tannie Adrie se verjaarsdag van die 10de

Mag Hy Sy seën op jou uitstort
sodat jy stokoud sal word.
Mag Hy Sy engele opdrag gee
om jou te beskerm elke tree.

Mag jy voorspoed op vele terreine geniet
en teenspoed in die toekoms die hoof bied.
Mag Hy Homself aan jou openbaar
en jy daagliks Sy liefde ervaar.

Tuesday, November 10, 2009

Verjaarsdagwense Vir Die Vrou


Vir Marina Malan met haar verjaarsdag die 7de

Alombekend as vrou en ma -
sy wat haar familie in gebed opdra.
Vandag dra ek haar aan U op –
maak dinge glashelder waaroor sy tob.

Alombekend as ma en vrou –
sy wat oor als en almal ‘n ogie hou.
Sal U U oor haar ontferm
en teen aanvalle van die bose beskerm?

Alombekend as vrou en ma –
sy wat luister hoe haar huismense kla.
Gee dat sy objektief sal oordeel
die kere wat sy moet regter speel.

Alombekend as ma en vrou –
sy wat U met haar hartsgeheime vertrou.
Sy wat in gebed haar oë rig na Bo –
gee vir haar die wysheid van Salomo.

Alombekend as vrou en ma –
sy wie mense soms met onbenullighede pla.
Maak haar in sulke tye kalm
as almal se versoeke in haar ore weergalm.

Alombekend as ma en vrou –
sy wat haar huismense met liefde omvou.
Koester haar daagliks teen U bors
en moenie dat mense met haar mors.

Alombekend as vrou en ma –
sy vir wie mense vir raad en rande vra.
Ek vra dat U haar met goeie gesondheid sal seën
en nog vir lank aan haar familie sal leen.

Sunday, November 1, 2009

Gesigte en name

Ek het nie 'n fotografiese geheue,
kan nie gesigte herroep vir wie ek omgee,
maar ek onthou die mooi herinneringe
van diegene in verskillende kringe.

Ek’s geneig om name te memoriseer,
die uitspraak soms moeilik om aan te leer,
dit beteken meer as jy die wat jy ontmoet
in die toekoms op hul name groet...